|
DIE HOËR
LANDBOUSKOOL MARLOW
Die skool op die plaas by die rivier...
MARLOW is 'n leefwyse !
Marlow is meer as 'n skool - dis
'n leefwyse . . Een maal 'n Wolram, altyd 'n Wolram !
Welkom by een van die mees unieke
skole in Suid- Afrika. Die Hoër Landbouskool Marlow is ‘n skool soos
enige ander skool, maar ook ‘n skool soos geen ander skool in Suid-Afrika. Hierdie seunskool met sy unieke karakter haal net die heel
beste uit elke leerling en die trotse prestasies van leerlinge,
onderwysers en oudleerlinge is ‘n weerspieëling van die karakterbou
wat hier plaasvind.
Hierdie landbouskool waar alle
leerlinge in koshuise op die plaas 10 km buite Cradock bly, is wyd
bekend. Die akademiese prestasies van die leerlinge, asook die
prestasies van die honderde oudleerlinge wat hul plek volstaan in ‘n
verskeidenheid beroepe, is ‘n bewys dat die leerlinge voorberei
word vir die eise van die volwasse lewe. Die baie uitsonderlike
sportprestasies in ‘n verskeidenheid sportsoorte van die leerlinge
en oudleerlinge, is 'n bewys van die goeie afrigting wat die leerlinge
hier ontvang asook die gemotiveerdheid van die leerlinge om te
presteer. Die unieke groepsgees wat jy by geen ander skool in Suid-Afrika sal kry nie, dra natuurlik by tot die pragtige prestasies.
Voeg daarby die opleiding wat die seuns op landbougebied ontvang
asook die feit dat hul altyd naby die natuur lewe en jy kry ‘n
resep vir geluk en sukses.
Marlow het sy deure in 1931 geopen en
het deur die jare ‘n unieke karakter ontwikkel. Hierdie karakter
word soos ‘n kleinood bewaar deur personeel en leerlinge. Die
tradisies wat eie is aan hierdie skool kry u nêrens anders nie. Dit
maak Marlow anders. In hierdie webruimte sal u meer kan uitvind oor
hierdie unieke skool. Geniet dit om meer uit te vind oor die skool
waar die waardes en norme wat hier geld, elke ouer laat rustig slaap.
F H OLIVIER
SKOOLHOOF
LIGGING
Marlow is geleë
op ‘n plaas 10km noord van Cradock op die walle van die Groot
Visrivier. Cradock is geleë in die Oos-Kaap Provinsie en is 250 km
noord van Port Elizabeth.
Die
skilderagtige terrein, pragtige koppies en berge tesame met die
uitgestrektheid van ‘n Karooplaas, maak die terrein uniek.
Hier ontwikkel die seuns weg van slegte invloede
en kan elkeen gelei word om sy volle potensiaal te ontwikkel.

|