 |
|
GROOTSTE O/13
SAAMTREK IN SUID-AFRIKA |
Die Hoër Landbouskool Marlow het in 1993 die eerste O/13
rugbyweek aangebied en nooit kon droom dat hulle in 2010 hulle negentiende week
gaan aanbied nie. Vanaf die eerste keer wat hierdie week gehou is, was dit
duidelik dat hierdie week ‘n baie groot sukses is en dat die skole wat dit
bywoon, dit elke jaar baie geniet. Marlow het gou besef dat die aanbied van
hierdie week ‘n groot leemte onder laerskole gevul het omdat dit al hoe
moeiliker vir hierdie skole raak om te gaan toer. Nie net is die week baie
bekostigbaar nie, maar is dit ook baie veilig vir die seuns en afrigters wat dit
bywoon. Tydens die week kry die skole nie net die geleentheid om hulle spanne
vir die komende seisoen reg te kry nie, maar is daar ook kans om hulle kragte op
die rugbyveld te toets teen skole van ander provinsies.
Die feit dat baie skole wat die eerste week bygewoon het, nog steeds elke jaar
Marlow se O/13 week bywoon, wys dat die week werklik baie vir hierdie skole
beteken en dat hulle dit sien as belangrike voorbereiding vir die komende
seisoen. Baie skole skryf dan ook elke jaar hulle suksesse op die rugbyveld toe
aan die feit dat hulle die week bygewoon het.
Tydens die week word baie tyd spandeer aan afrigting en ander fasette van rugby,
maar daar word ook tyd gemaak vir ‘n sinvolle ontspanningsprogram en die spelers
en hulle onderwysers kry die geleentheid om op ‘n eg plattelandse wyse te
ontspan. Deur die jare het die spelers en afrigters dan ook baie hegte
vriendskapsbande op Marlow gesmee en baie skole wat die week bywoon, begin
onderlinge toernooie en wedstryde in die betrokke seisoen reël.
Uit die jaarverslag van 2009
Marlow het in die Aprilvakansie die 18de O/13 Rugbyweek aangebied. Agt en
twintig skole vanoor die Wes-Kaap, Oos-Kaap, Noord-Kaap, Suid-Kaap, Vrystaat en
Boland het die week bygewoon en is baie tevrede terug huis toe. Hierdie week het
deur die jare gegroei tot die grootste van sy soort in Suid-Afrika. Nie net bly
dit die grootste fondsinsamelingspoging van die skool nie, maar het die week die
afgelope twee jaar ontwikkel in ‘n goeie bemarkingspoging vir die skool.
Die O/13 Rugbyweek het hierdie jaar goeie blootstelling op SuperSport gehad en
die skool se naam is baie wyd uitgedra oor die hele land. Transnet het die 2009
O/13 Rugbyweek geborg met ‘n bedrag van R 174 000 wat die totale borgskap vir
die week op R195 000 gebring het.
Die O/13 Rugbyweek is ‘n spanpoging deur die ‘n groot aantal personeellede en
ouers van Marlow. Sonder hulle baie harde werk, geduld, opofferinge en die
liefde waarmee hulle hierdie taak vir Marlow aanbied, sal die week nie meer kan
bestaan nie.
Mnr. Van Dyk doen baie moeite met hierdie projek wat vir die skool so baie
beteken en ek bedank hom in hierdie aand vir sy aandeel in die sukses van
hierdie week.
|
 |