Home
Fasaliteite
Koshuise
Beheerliggaam
Borge
Leerders
Skoollied




 

Onderwys het die afgelope aantal jare baie verander en as daar na statistieke oor die Suid-Afrikaanse Onderwysstelsel gekyk word, is dit baie kommerwekkend. In 1995 skryf 1,53 miljoen leerders in vir graad een. In 2007 slaag net 599 000 van hierdie 1,53 miljoen leerders matriek. Dit verteenwoordig 39% van die leerders. Dit beteken dat 61% van hierdie leerders deel word van die ongekwalifiseerders wat meestal werkloos is en deel is van ons misdaadgeskiedenis. In 2008 slaag net 36% van leerders wat aanvanklik in graad een ingeskryf het. As daar na die geletterdheidsvlakke van Suid-Afrikaanse leerders gekyk word, is dit van die swakstes in die wêreld. Ek kan u nog baie ontstel met statistiek oor hoe swak Suid-Afrikaanse leerders in Wiskunde en taalvaardighede vaar.

Wat sê Marlow se statistiek: Alle leerders in 2009 slaag hulle graad. ’n 100% slaagsyfer. Rabbi Kaplan het egter gesê: "Never be satisfied with what you achieve, because it all pales in comparison with what you are capable of doing in the future." Voor ons dus in genoegdoening tevrede agteroor sit, wil ek sê dat ek ook oor sekere aspekte van onderrig by Marlow bekommerd is. ’n Skool gaan ook oor veel meer as net akademiese uitslae en daarom moet u uit hierdie jaarverslag oordeel of Marlow in 2010 suksesvol was.

Ons is dankbaar om te rapporteer dat waardes en norme wat nog al die jare in Marlow gegeld het, nog net so belangrik is soos in die verlede. Marlow is anders as ander skole en dit sal altyd so wees. Ons sal bly veg vir hierdie voorreg.

 

FINANSIES - Iets anders word reeds gedoen

Baie moeite word administratief gedoen om die begrotings te laat klop. Al die administratiewe personeel werk saam om hieraan reg te laat geskied.

Tans dien die 0/13-Rugbyweek en die Visrivierkanomarathon as die grootste fondsinsamelingspogings van die skool. Beide hierdie funksies se fondse kom dus nie uit ons eie ouers se sakke nie en alles moet gedoen word om hierdie pogings te bly behou en uit te bou.

Ons het vanjaar verander van hoof-rugbyborg. Baie dankie aan Mutual & Federal Agri wat ons vir baie jare geborg het en baie welkom aan Santam Landbou wat tans as hoofborg optree. Dankie, ook aan Henkel boerdery wat Marlow ook van vanjaar af borg.

Die installering van hittepompe by die koshuise en onderwysershuise was ’n groot projek wat in die toekoms moet meewerk tot ’n groot besparing. Ons glo ook nog dat meer gedoen kan word om dalk hidro-elektrisiteit op te wek vir die skool.

 

JAARBLAD

Marlow publiseer elke jaar n jaarblad van hoogstaande gehalte. As u belangstel in die jaarblad kan u dit bestel by die volgende adres: Posbus 40, Cradock 5880. U kan ook per e-pos laat weet dat u n jaarblad wil ontvang. E-posadres is marlow@isat.co.za. Die jaarblad kos tans R100 per boek.

U kan ook adverteer in hierdie blad. Kostes van advertensies kan aan u verskaf word.