 |
|
Mnr. J. van der Merwe
(Jaarverslag) |
Marlow atletiek kyk terug op ‘n suksesvolle seisoen
Met die rugby wat reeds in volle swang is kan die Hoër Landbouskool Marlow
terugkyk op ‘n uiters suksesvolle atletiekseisoen. Die feit dat Marlow beskik
oor ‘n groep seuns wat nog passievol is om deel te neem aan ‘n sport wat die
laaste aantal jare grootliks moes terugstaan vir meer gewilde spansporte, is ‘n
voorreg waarmee min skole kan saampraat.
Hierdie woorde word nie ligtelik geuiter nie en deeglike bewys hiervan was die
meer as 100 seuns wat by die plaaslike Inxuba Yethemba (Middellande)
Distriksbyeenkoms in die veld gestoot is. Nie net het hierdie groot aantal seuns
deelgeneem nie, maar het hulle ook die byeenkoms oorheers deur meer as die
helfte van die seunspan uit te maak wat na die Mega Distriksbyeenkoms
deurgedring het. Die positiewe en lewenslustige geaardheid waarmee die Wolramme
hierdie byeenkomste en die seisoen oor die algemeen benader het, is
prysenswaardig en het telkens komplimente van vriend en vreemdeling ontlok.
Marlow seuns was by verskeie geleenthede betrokke by meer as een sportsoort op
dieselfde dag en het sonder huiwering en in ‘n positiewe gees oral deelgeneem.
Marlow is dankbaar vir hierdie gesindheid wat die Wolramme telkens openbaar het!
By die Chris Hani Mega Distriksbyeenkoms presteer die Wolramme uitstekend, maar
die naellopers maak in besonder goed gebruik van perfekte toestande met vier
atlete wat droomwedlope hardloop om die 11 sekonde grens te breek. Hierdie
naellopers, Zubin Baartman (10.61), Hannes Coetzee (10.74),Michael Botha wat nog
sestien jaar oud is(10.81) en Chris Beets (10.91) kan regtig tevrede voel en hul
prestasies dien as beloning vir soveel toewyding en harde werk reeds lank voor
die seisoen nog begin het.
Na afloop van die Mega Distriksbyeenkoms word negentien atlete gekies om na die
Oos-Kaap byeenkoms in Oos-Londen deel te neem. By die Oos-Kaap byeenkoms
presteer drie atlete goed genoeg om vir die Oos-Kaap span te kwalifiseer om by
die SA Skole byeenkoms in die Paarl te gaan deelneem. Baie geluk aan Hannes
Coetzee, Danie Louw en Sean van Zyl vir hierdie uitstekende prestasies. Marlow
is voorwaar trots op julle!
By die SA Skole byeenkoms behaal Danie ‘n negende plek in die gewigstoot terwyl
Hannes ‘n uitstekende agste plek in die 400m hekkies behaal. Baie geluk Hannes
en baie dankie vir jou besondere toewyding!
Buiten vir die SA Skole been van die atletiek, stuur Marlow sewentien atlete om
aan die OP Juniors atletiekbyeenkoms by die NMMU atletiekbaan in Port Elizabeth
te gaan deelneem. Tydens hierdie byeenkoms word Hannes Coetzee en Danie Louw as
OP kampioene gekroon in die 400m hekkies en diskusgooi vir negentienjarige seuns
onderskeidelik. Om die kroon te plaas op manhaftige deelname in stormweer word
vier Wolramme, Hannes Coetzee, Danie Louw, Michael Botha en Faan Greyling na
afloop van die byeenkoms verkies vir die OP span om aan die SA Juniors byeenkoms
in Germiston te gaan deelneem.
Tydens die SA Juniors byeenkoms moes Hannes tevrede wees met ‘n negende plek in
die 400m hekkies terwyl Danie sy twaalfde plek in die diskusgooi by die SA Skole
byeenkoms oortref het deur hierdie keer in die negende plek te eindig.
Baie dankie aan elke afrigter, atleet en organiseerder vir u bydrae, in watter
mate ook al, tot die sukses wat Marlow atletiek vanjaar behaal het. Ons sien uit
na ‘n volgende seisoen met die room van die Middellande!
|
HOËR LANDBOUSKOOL
MARLOW TROTS OP MARIUS CORBETT |
UIT ONS ARGIEWE:
Marius Corbett, węreld spiesgooikampioen (1997) was in 1993
die hoofseun van Marlow. Na sy pragtige prestasie het die volgende berig in die
koerant verskyn
Die vreugdevure het Dinsdagaand 5 Augustus hoog gebrand by die
Hoër Landbouskool Marlow toe Marius Corbett, oud-leerling van die skool, die
eerste Suid-Afrikaner geword het om gekroon te word as 'n węreldkampioen tydens
'n węreld atletiekkampioenskap. Marius was vanaf 1989 tot 1993 'n leerling by
Marlow en was ook gedurende 1993 die hoofseun van die skool.
Marius het as standerd ses leerling begin deelneem aan spiesgooi en moes in sy
standerd ses en sewe jare tevrede wees met derdeplekke tydens die jaarlikse
kleurebyeenkoms. Hy het egter volhard en volgehou om te oefen en kry dan ook in
sy standerd sewe jaar die eerste maal O P kleure vir spiesgooi. Vanaf sy 0/16
jaar vaar hy al hoe beter en in 1992 wen hy as 0/17 atleet die goue medalje by
die Suid Afrikaanse Junior Atletiekkampioenskap. Gedurende Oktober van 1992
verbeter hy die 0/17 Suid Afrikaanse rekord na 74,74m by 'n byeenkoms op
Cradock.
In sy matriekjaar vaar hy weereens baie goed en behaal weer goud by die S A
Junior kampioenskap. Hy word ook as kaptein van die S A skolespan aangewys
gedurende hierdie jaar. Marius word gedurende sy matriekjaar ook uitgenooi om in
Europa te gaan deelneem en moes baie vinnig 'n keuse maak of hy aan die
Cravenweek moet deelneem of hy gedurende die wintermaande in Engeland moet gaan
spiesgooi. Hy besluit op atletiek en doen waardevolle internasionale
ondervinding op.
Na matriek gaan studeer hy aan die Universiteit van Potchefstroom waar hy
weereens die goue medalje wen by die S A Junior kampioenskap en hy verbeter ook
die S A en Afrika Junior rekords. In hierdie jaar word hy dan ook gekroon as
Junior węreldkampioen toe hy die goue medalje wen by die Junior
Węreldkampioenskappe.
Hierna volg 'n frustrerende tydperk vir Marius toe hy intens gepla word deur
beserings en sy eerste twee jare as senior atleet kon hy dan ook nie deelneem
nie met die gevolg dat almal gou van hom vergeet het.
Gedurende 1997 neem hy egter weer voluit deel en word vir die eerste keer die S
A Senior spiesgooi kampioen. Alhoewel baie geglo het dat Marius die eindronde
sal haal by die Węreldkampioenskappe, het niemand geglo dat hy gekroon sal word
as węreldkampioen nie.
Marius het deur al die jare gewys dat hy die temperament het vir die groot
oomblik en waar baie atlete vou onder druk, is dit Marius wat altyd sy beste
uithaal en van sy beste afstande gooi. Miskien het dit te doen met sy nederige
lewenshouding en ook die feit dat sy prestasies nooit na sy kop gegaan het nie.
Marius se vader, Fanie Corbett, is ook 'n oudskolier van Marlow terwyl sy drie
broers almal hul skoolloopbaan op Marlow voltooi het. Fanie het ook vir jare
gedien op die bestuursliggaam van Marlow.
Marius is vir die duur van sy skoolloopbaan afgerig deur die huidige skoolhoof,
Hennie Olivier terwyl hy tans afgerig word deur Terseus Liebenberg.
Die Hoër Landbouskool Marlow is dankbaar om te kon bydra tot die vorming van
Suid Afrika se eerste węreldkampioen.
|
 |