|
|
SKAAP-EN-WOLAFDELING:
Mnr Z Ferreira |
Merino`s: Ons vierde Marlow Konsortium ramveiling
was weer `n groot sukses. Al die ramme is verkoop en ons sien uit na die vyfde
veiling wat op 23 Februarie 2011 sal plaasvind. Die kwaliteit van ons skape
verbeter steeds en ons sien uit na `n goeie lamseisoen. Die projek om ooie op `n
kuilvoerbasis in die voerkraal te laat lam, gaan voort. Ons vennootskap met
Konsortium gaan vir ons baie voordele in die toekoms inhou en ons bedank hulle
vir die volgehoue belangstelling.
Angoras: Ons het weer `n baie goeie lampersentasie gehad en die kwaliteit
van die bokke verbeter steeds.
Algemeen: Twee permanente veewagters is aangestel om die probleem van
veediefstal aan te spreek. Hierdie stelsel werk goed.
|
SUIWEL: Mnr. J van
der Merwe |
Marlow melk tans ±200 koeie in twee sessies teen `n
kuddegemiddeld van 23 liter melk per koei per dag. Die koeie in ons top groep
lewer gemiddeld meer as 40 liter melk per dag.
Die Marlow leerders word vier maal per week by die suiwelafdeling op `n
praktiese wyse geleer hoe om die basiese alledaagse funksies van `n melkery te
verrig. Hierdie opleiding sluit praktiese toetse in en begin in graad agt by die
basiese uitkenning van melkkoeie en hul liggaamsdele, tot die volledige lineêre
beoordeling en suiwel bestuursprogram in graad elf en twaalf.
Ander interessante werkies wat die leerders uitvoer, is die onthoring en
dosering van kalwers, asook die rekordering van nuwe verse vir registrasie. Baie
dankie aan mnr. Charl Naudé vir sy positiewe ingesteldheid teenoor die opleiding
en sy bereidheid om selfs melktye aan te pas om ons leerders te akkommodeer.
Twaalf seuns het Oktober verlede jaar deelgeneem aan die Cradock Jeugskou. Baie
dankie aan elkeen van hierdie seuns vir die ure se voorbereiding en baie geluk
aan OJ Moolman wat uiteindelik as oorwinnaar gekroon is. Daar is vanjaar reeds
`n hele paar seuns wat druk besig is om hul kalwers voor te berei vir die skou.
OJ Moolman, Tobie van Heerden, Willie Naudé, Olivier Dippenaar en Lood de Jager
is verkies tot die Oos-Kaap Jeugskouspan om aan die Nasionale Jeugskou by
Morgenson gedurende die Septembervakansie te gaan deelneem. Baie sterkte ook aan
hierdie seuns.
Die varkboerdery het goed verbeter. Die sôe produseer groter
werpsels en die speenouderdom is beter. Alle aanteel word verkoop en ou sôe word
gereeld vervang. Die leerders verrig verskeie take wat nodig is vir goeie
bestuur. Die take sluit in:
• Voeding en versorging van groot varke
• Versorging tydens kraam en daarna bv tande knip, inspuiting, ontwurming ens.
Die terrein en hokke word ook gereeld deur die leerders skoongemaak en versorg.
|
PLUIMVEE - Mnre. T
Aucamp / R van Dyk |
Die Pluimvee-afdeling is ‘n demonstratiewe afdeling waar die
leerders (veral die juniors) kennis maak met verskillende hoenderrasse. Klem
word veral gelê op bestuurspraktyke en seuns kry die geleentheid om self die
pluimvee te voer en die hokke skoon te maak. Sodoende word ‘n verantwoordeliksin
en ‘n liefde vir pluimvee by die seuns gekweek.
Die leerders word veral aan inheemse rasse blootgestel met die Venda, Kaalnek,
Owambo en Red Island Red rasse wat by die afdeling is. Binnekort word daar ook
op ‘n groter skaal met die Bosveld-hoenderras begin boer wat ‘n dubbeldoelras
is.
|
GEWASPRODUKSIE: Mnr.
P de Koker |
Die akkerbou-afdeling bestaan uit 180ha. 60ha Mieliekuilvoer is
vanjaar verbou en `n obrengs van 75 ton per hektaar is gesny. Die
lusernaanplantings lyk baie goed. Op die spilpunte is daar 30ha lusern, 45ha
ertjies en 15ha hawer geplant. Dit lyk baie belowend.
Die leerders ontvang praktiese onderrig in die volgende komponente van akkerbou:
onkruididentifisering, uitken van plaasimplemente, lusernbeoordeling,
kalibrering van spuitpompe, snoei, besproeiing, skedulering, enting en okulering.
Die graad 12`s het weereens die geleentheid gekry om kennis oor `n
verskeidenheid grasse en bossies in ons Karoostreek op te doen met die
aanbieding van `n gras- en bossieprojek deur kundiges van Grootfontein
Landboukollege. Mnr Dassie Mulder het oudergewoonte `n baie professionele kursus
tydens die kortkursusweek aangebied.
|
LANDBOUTEGNOLOGIE:
Mnr. B. Siebert |
Die Landboutegnologie leerlinge het weereens die jaar goeie werk
opgelewer. Die graad tiens het hul draadkarre met soveel vakmanskap gebou dat
vele aanbiedinge al van die Bergplaaskinders gekry is vir hul karre. Die graad
elf en twaalf projekte het weereens baie goeie take opgelewer en die seuns is
baie trots op hul projekte. Die projekte word ten toon gestel in die uitstalling
in die studiesaal.
|