Home




MARLOW:  1931 -  2011

Die gedagte om ‘n Landbou-industriële skool naby Cradock te stig, het by wyle I B van Heerden ontstaan wat geboer het te Kaalplaats Cradock. Tydens ‘n skoolraadsvergadering op 16 Junie 1911 het mnr Van Heerden voorstel dat die Unie-regering genader word om ‘n gedeelte van die plaas, Driefontein, beskikbaar te stel vir die oprigting van ‘n landbou- industriële skool.

Die regering het toestemming verleen en die hoeksteen is op 4 Maart 1918 gelê. ‘n Stuk grond van die plaas, Rietfontein, wat aan die Unie-regering behoort het, word geregistreer by die aktekantoor vir die oprigting van die skool. Op hierdie registrasiesertifikaat verskyn die naam Marlow vir die eerste keer. Marlow was die naam van die spoorwegsylyn op dieselfde stuk grond wat aangekoop was vir die oprigting van die skool. Die spoorwegingenieur wat die sylyn ontwerp het, was ‘n sekere mnr Marlow.

Die regering het egter nie verder met hierdie idee gevorder nie en mnr Van Heerden het toe voortgegaan om hom te beywer vir die oprigting van ‘n landbouvakskool. Toestemming is verleen en mnr Van Heerden het as onder-voorsitter saam met ds J G Olivier (voorsitter) gedien op die eerste adviserende komitee van die skool.

Die Departement van Unie-Onderwys het in 1929 finaal besluit om voort te gaan met die stigting van Marlow Landbouvakskool en begin met die oprigting van skool- en koshuisgeboue. Dit was teen die einde van 1930 voltooi. Die koshuis het voorsiening gemaak vir 40 leerlinge. Die groter plaas, Driefontein, is gehuur by die Departement van Spoorweg en Hawens wat die ondergrondse water gebruik het vir gebruik in die stoomlokotiewe. Die fonteine by Driefontein het water voorsien aan die lokomotiewe wat naby die huidige Cradock Spa water ingeneem het.

Drie personeellede word in 1930 aangestel nl. mnr D B van Zyl as eerste skoolhoof en twee instrukteurs, mnr G J Marais en mnr S J Brandt.

Die skool open op 21 Januarie 1931 met nege leerlinge en die drie personeellede. Die amptelike opening vind later die jaar plaas deur dr D F Malan, die Minister van Onderwys, wat dan ook later eerste minister word van die Unie.

Die enigste woonhuis was op Driefontein, vyf kilometer van die skool, waar die huidige spilpunte tans is. Al drie onderwysers het in die huis gebly. In 1932 word die skool en koshuis van elektriese krag voorsien.

Twee instrukteurs en 19 leerlinge van ‘n ambagskool op King Williamstown begin bou in 1930 die skoolhoof se huis, koei- en perdestalle asook ‘n groot kuilvoersilo. Verdere plaasgeboue word gebou en die skeerhuis word in 1939 voltooi.

In 1938 verander die benaming van die skool van ‘n Landbouvakskool na ‘n Landbouskool.

Deur die depressiejare groei die skool stadig en in 1934 word die koshuis vergroot sodat dit 60 leerlinge kan huisves. Die skoolhoof se woning (mnr Charl Naude se huidige huis) word in 1937 voltooi.

In 1946 word die koshuis weer vergroot sodat dit 85 leerlinge kan huisves. ‘n Laboratorium in die skool word later omskep in ‘n slaapsaal en in 1952 is hier 122 leerlinge in die skool. In dieselfde jaar, in die nag van 7 November 1952, brand die koshuis af. Die volgende oggend kon die honger verwese leerlinge darem mieliepap eet wat in die lou-oonde in die Agastoof behoue gebly het.

Vir meer as twee jaar sukkel die skool voort sonder behoorlike huisvesting terwyl Huis Willie Michau gebou word. HWM was dadelik vol en daar is dadelik begin met die bou aan Huis Sarel Brandt wat 60 leerlinge kon huisves. Terwyl daar gebou word, samel ouers geld in vir die bou van die P J du Plessisaal. Die ouers betaal die helfte van die geld en die onderwysdepartement die ander helfte. Woonhuise vir die personeel word ook gebou en in 1956 was hier agt woonhuise.

In 1957 word die J L de Bruin swembad in gebruik geneem, die D B van Zyl biblioteek, ‘n projektorkamer asook ‘n nuwe klaskamer word in 1964 voltooi.

In 1966 koop die onderwysdepartement ‘n klein besproeiingsplaas (30ha) by een van die onderwysers, mnr Chris Spies, oorkant die rivier. In 1976 word die teerpad na die skool gebou.

Op 4 Maart 1974 oorstroom die Visrivier sy walle en spoel krag- en telefoonlyne weg. Die pluimveeafdeling word heeltemal vernietig, terwyl die werkswinkels ook erg deurloop. Die water is ook heuphoogte deur die skoolgeboue en ook HWM word oorstroom. Die leerlinge het vir twee nagte in die skeerhuis geslaap voordat hulle tydelik kon huis toe gaan. Die matrieks bly agter en studeer by gaslampe om verlore werk in te haal. Die skade beloop R250 000.

Daar is ná hierdie vloed vir lank onderhandel om nuwe landbougeboue te bou. Dit word in 1988 verwesenlik met die inwyding van die nuwe plaasgeboue wat R1 919 339 gekos het. Dit sluit ‘n implementeskuur, vark- en pluimveeafdeling, suiwelafdeling, perde- en kraamstalle, abbatoir, asook verbeterde wolskuur, ramstalle en lusernskuur in.

Uit eie ondernemingsgees bou die skool op eie koste twee muurbalbane en ‘n onderdakbraai-area wat aansluit by die oudskoliere klubhuis. Hierdie kompleks word ingewy op 27 Mei 1989. Net die volgende jaar op 21 Julie 1990 word die nuwe pawiljoen ingewy wat ‘n volledige gimnasium insluit. Hierdie twee projekte word geïnisieer deur die oudskoliere wat ‘n leidende rol speel in hierdie proses.

Die skool groei steeds en dit word nodig om nog akkommodasie te skep. Die Braam Mulder anneks word dus uit eie fondse gebou in 1997 wat 38 leerlinge kan akkommodeer. Die huidige koshuise word ook verander sodat Marlow se getalle groei tot 260 in 2006.

Marlow se landboubedrywighede groei ook konstant deur die jare. Die koms van model C- skole gee aan Marlow die geleentheid om sy boerdery baie uit te brei. Die aanstel van mnr Charl Naude as plaasbestuurder in 1993 het baie bygedra tot die suksesverhaal van die boerdery.

Die lande onder besproeiing is geleidelik vermeerder van 50ha tot 90ha oor ‘n hele aantal jare. Die besluit om drie 30ha spilpunte op te rig in 2003 het die lande onder besproeiing verdubbel tot 180ha onder besproeiing.

In die dertigerjare was die melkery in die vleie oorkant die Middelburgpad. Met die voltooiing van die melkery in 1939, is daar met die hand gemelk tot 1988 met die bou van die nuwe suiwelafdeling. Ook hierdie afdeling is die afgelope aantal jare baie uitgebrei. Die beeste in melk word vermeerder van 40 in 2002 tot 200 in 2006.

Ook die skaap-en-wolafdeling, wat die hart van die boerdery was vir baie jare, is geleidelik uitgebrei. Die merino-, dorper- en angorakuddes is verbeter en vermeerder deur die jare sodat Marlow vandag kwaliteit diere het waarop ons opreg trots is. Die verbintenis met Merino-konsortium is ‘n bewys hiervan.

Deur die jare het verskeie onderwysers diep spore getrap op Marlow. Baie van die onderwysers het as rolmodelle vir die leerlinge deur die jare baie beteken. Baie het op landbougebied in die Oos-Kaap, maar ook in Suid-Afrika, leidende rolle oor die jare gespeel. Baie het op sportgebied vir hulself en die skool naam gemaak. Om persone se name te noem, sal onregverdig wees. Ons eer hulle nagedagtenis en bydrae tot Marlow vanaf 1931 tot huidiglik in 2009.

Enkele interessante feite oor die paar skoolhoofde wat in die afgelope 75 jaar die leiding op Marlow geneem het:

Mnr D B van Zyl (1931 - Maart 1947): Mnr Van Zyl is as instrukteur van die landbouvakskool Oakdale oorgeplaas na Marlow as skoolhoof. Mnr Van Zyl vestig Marlow as landbouskool in moeilike depressietye. In sy tyd word heelwat van die vorige landbougeboue opgerig. Veel meer van hierdie tydperk ken ons nie. Wat ons wel weet, is die feit dat mnr Van Zyl nie gekwalifiseer was as onderwyser nie. Hy was ‘n landbouinstrukteur sonder akademiese opleiding. Mnr Van Zyl het ‘n baie goeie syfervermoë gehad.

Mnr S J Brandt (1947 - Augustus 1964): Mnr Brandt word deur baie van die oudskoliere as argitek van Marlow beskou. Hy wat lief vir Marlow en het sy alles vir die skool gegee. Die skool groei ook in sy tyd tot net meer as 200 seuns. Mnr Brandt sterf tragies na ‘n motorongeluk naby die huidige implementeskuur. Ook sy seun, Sarel, was saam met hom in die motor en sterf in hierdie ongeluk.

Mnr H T van G Bekker: (1964 - 1980): Mnr Bekker( M Sc) was bekend as ‘n baie goeie Skaap-en-Wol onderwyser. Sy tydperk word veral gekenmerk deur goeie administrasie en finansiële dissipline. Mnr Bekker doen meeste van die werk om die nuwe landbougeboue werklikheid te maak wat in 1988 ingewy word. Heelwat personeelveranderinge vind in mnr Bekker se tyd plaas.

Dr E Mostert (1981 - Junie 1985): Dr Mostert het in ‘n kort tydjie diep spore getrap op Marlow. Die skoolgetalle styg sterk van 120 tot 168 in hierdie vier jaar. Dr Mostert sorg vir goeie dissipline en veral op akademiese gebied word baie gedoen om die skool se naam op die voorgrond te plaas. Goeie administratiewe strukture word geskep wat vandag nog bestaan.

Mnr P J Vermaak (Oktober 1985 - 1993): Mnr Vermaak gaan voort met die werk van dr Mostert. Hy sorg vir goeie dissipline en die skool presteer veral op atletiekgebied uitstekend. Ook op gebied van akademie en rugby word goeie prestasies gelewer. Die skool se getalle styg tot 200, maar stabiliseer op 180.

Mnr F H Olivier (1994 tot op hede): Baie veranderinge vind in die politieke bestel van Suid Afrika plaas en op onderwysgebied word die kurrikulum dramaties verander. Die skool se getalle styg tot 258 in 2010. My opvolger sal egter eendag oor hierdie tydperk verslag moet doen.

Op ‘n persoonlike vlak:

Ek is op Driefontein, naby die huidige spilpunte gebore op 4 Maart 1949. My pa was die skoolraadsekretaris van Marlow tot 1961. Daarna is hy verplaas na Boland Landbouskool naby die Paarl. Ek het skool gegaan in die klein skooltjie saam met elf ander leerlinge by mnr Meintjies, ons enigste onderwyser. Ons was dus 12 leerlinge van sub A tot standerd vyf. Sarel Brandt, mnr Brandt se seun wat tragies verongeluk het in 1964, was saam met my in die klas.

Ek was kind op Marlow en het in die kaias gespeel, perd gery, botter gemaak saam met oom Skallie Botterspaan in die melkstal. Ek was “ball boy” as Marlow teen Boys High rugby gespeel het. Ek het al die onderwysers en swart werkers geken. Ons as gesin het nie baie aardse besittings gehad nie, maar ons was gelukkig en ek was bevoorreg om op ‘n plaas te kon groot word.

Nadat ons as gesin in 1961 hier weg is, het ons maar altyd kontak gehou met Marlow. Marlow was in ons bloed. In 1985 keer ek terug as onderwyser en beleef goeie en swaar tye. In my tyd sterf vyf leerlinge terwyl hulle hier op skool was. Traumatiese tye. Ek het Marlow sien groei oor die jare. Honderde skoliere het deur die jare gekom en gegaan. Die wonderlike gees wat hier heers, was altyd die uitstaande kenmerk van Marlow. Ek ken Marlow deur en deur. Die volgende staan vir my uit:

Ons mag partykeer verskil van mekaar hier op Marlow. As ons egter hier wegry om Marlow te gaan verteenwoordig, is ons ‘n span - ‘n Marlowspan.

Die onderwysers op Marlow gee om vir elke leerling. Jy is nie net ‘n nommer nie. Hulle gee regtig om.

Die gees op Marlow is ongekend. Marlow is werklik ‘n skool soos enige ander skool, maar ook ‘n skool soos geen ander skool nie.

Om aan Marlow verbonde te wees, is ‘n voorreg. Een maal ‘n Wolram - altyd ‘n Wolram!

Mnr Brandt, skoolhoof van 1947 tot 1964, het nadat die koshuis op 7 November 1952 afgebrand het, gesê: “Marlow se leuse is Handhaaf en Bou. Ons het gehandhaaf en sal nog bou.” Dit is wonderlik om hier in 2009 te sê dat ons nog steeds handhaaf en dat ons reeds baie gebou het. Baie na ons sal ook nog handhaaf en bou. Die eerste nege-en-sewentig jaar van Marlow was suksesvol. Hoe ons en ons opvolgers gaan omsien na Marlow, sal die sukses van die volgende nege-en-sewentig jaar bepaal. Mag Marlow van krag tot krag gaan.

Hennie Olivier
SKOOLHOOF