Home
Boerdery
Boerdery Afdelings




MARLOW - 'N LANDBOUSKOOL

Marlow is 'n skool soos enige ander skool, maar dit is ook 'n skool soos geen ander skool nie. Dit is die enigste akademiese hoërskool wat 'n volwaardige landbou-studierigting aanbied.

Benewens die landboustudie, laat Marlow ook leerders toe om 'n suiwer akademiese kursus te volg. Dit gee dus aan leerders die geleentheid om deel te word van die unieke Marlow opset sonder om gespesialiseerde landbou-opleiding te ontvang.

Landbouopleiding geskied prakties. Hier dien die plaas met sy sewe spesialiteitsrigtings as lewende laboratorium om die teoretiese en praktiese opleiding te versoen en dit beroepsgerig te maak.

 

INHOUD VAN LANDBOU-OPLEIDING

Die landboukurrikulum behels die volgende:

Gewasproduksie wat graan-, voer- en weidingsgewasse sowel as groenteverbouing insluit.
Veekunde waaronder die volgende studierigtings ingesluit word: Skaap-en-wol-, suiwel-, pluimvee- en varkboerdery.


Landboutegnologie wat houtwerk, metaalwerk en alle tegniese aspekte van boerdery behels.

 

KORTKURSUSSE

Wolskole vir leerders in grade elf en twaalf word in samewerking met BKB gereël. Dit stel die leerder in staat om 'n Springbokkop in wolklassering te verwerf.
'n Kursus in sybokhaarklassering word eweneens deur Cape Mohair and Wool vir leerders in grade tien en elf aangebied.

'n Volwaardige kunsmatige inseminasiekursus word aan belangstellende leerders aangebied.

'n Verskeidenheid boerderykortkursusse word aangebied deur landbou-instansies. Die leerders word ook jaarliks op opvoedkundige toere en uitstappies geneem.
 

LANDBOU-AANGELEENTHEDE

Die hoër insetkoste, laer melkprys en droogte plaas finansiële druk op die boerdery. Mnre Charl Naudé en Bennie Landman doen steeds meer as wat van hulle verwag word.
 

Junior Landbouvereniging : Mnr. J. v d Merwe

Drie Marlow leerders, Graham Lombard, Nicolaas Pretorius en Luan van der Walt, het op 24 en 25 Augustus die Agri Oos-Kaap Landboukongres in Jeffreysbaai bygewoon. Die kongres gee die seuns ‘n blik op die werklike uitdagings waarmee die moderne boer daagliks te doen het, en dien ook as die begin van onmisbare bande wat hierdie jong boere met die rolspelers in Suid-Afrikaanse landbou smee.

Vanjaar het Graham Lombard die kongres toegespreek en ‘n pleidooi gelewer vir ‘n mandaat van Agri SA om druk toe te pas op die regering om die algehele veiligheid van boere in die landelike gebiede te verseker om sodoende die bedryf meer aantreklik te maak vir die toekomstige boere. Na afloop van die kongres is Graham welverdiend aangewys as die beste junior spreker tydens die kongres. Baie geluk met ‘n puik voorlegging. Baie dankie ook aan Agri Oos-Kaap vir die positiewe manier waarop u ons seuns ontvang. U belangstelling en steun is vir ons van onskatbare waarde