 |
Marlow is ‘n seunskool waar al die leerders kosgangers
is. Dit maak die groepsgees baie besonders.
Marlow is ‘n landbouskool op ‘n plaas - dus geen dagskoliere nie. Dit maak die
groepsgees nog sterker. Bande tussen leerlinge word nooit verbreek nie. Een maal
'n Wolram, altyd 'n Wolram.
Die kaias op die walle van die Visrivier maak die skool uniek. Geen ander skool
kan hiermee spog nie.
Die kaias is huisies in die walle van die Visrivier wat die seuns self
gebou het. Al die seuns in die skool behoort aan 'n kaia. Die tradisies van die
kaias is net so oud soos die skool self.
'n Kaia het gewoonlik 'n ruim sitvertrek waar die seuns ontspan, 'n
kombuisgedeelte waar vleis gebraai en koffie gemaak word. Die kaias het ook
almal 'n buitebraai wat oor die Visrivier uitkyk. Die kaialede maak ook 'n mooi
Karoo-tuin rondom die kaia. Elke kaia het 'n "kaiachief"wat die hoof van die
kaia is. Hy sorg dat sy kaialede gelukkig is en dat die struktuur van die kaia
altyd uitgebrei en netjies is.
Dit is hier waar die seuns ontspan, vleisbraai, koffie drink, in die rivier swem,
visvang en met binnebande in die rivier af dryf. Dit is mos regtig gesonde
ontspanning.
Marlow bied ‘n gewone akademiese kursus soos enige gewone
hoërskool aan, asook ‘n landbougerigte kursus wat net by landbouskole moontlik
is. Seuns wat hier matrikuleer, kan enige kursus volg by enige universiteit,
technikon of landboukollege. Die Nasionale Kurrikulumverklaring maak
landbou-opleiding nog meer relevant as in die verlede.
Goeie sportafrigting in ‘n wye verskeidenheid sportsoorte waar die
afrigter werklik omgee vir u seun is een van Marlow se kenmerke. Marlow bied
nie sportbeurse aan nie (koop nie spelers nie) - ons ontwikkel elke seun sodat
hy sy volle potensiaal bereik.
As rugbyspelende skool het Marlow nie sy gelyke in die S A Platteland nie.
Marlow beklee tans (2009) die sesde plek op die ranglys van alle rugbyspelende
skole in Suid-Afrika. Agt seuns word opgeneem in die OP Plattelande 0/18
Cravenweekspan, vier in die OP 0/16 Grant Komospan en vier in die OP Plattelande
0/18 Akademiespan. Min skole in Suid-Afrika stoot week na week dertien spanne in
die veld. Marlow het die afgelope vier jaar 45 provinsiale rugbyspelers
opgelewer. 'n Puik prestasie wat min skole in Suid Afrika kan ewenaar.
Vergewis u self van Marlow se prestasies op kultuurgebied. Die seuns vaar
besonder goed tydens redenaarskompetisies, toneelfeeste, koorfeeste asook op
skaakgebied.
Soek u gemoedsrus dat u seun versorg word, gelukkig is en na aan die natuur
lewe? Seuns groei hier tot volwasse jong mans wat die wêreld vierkantig in
die oë kan kyk.
Ferm, dog simpatieke dissipline wat sorg dat u seun sonder ontwrigting sy
skoolloopbaan kan voltooi.
'n Onderlinge groepsgees waarop ander skole met reg jaloers is.
‘n Tradisieryke skool waarop u en u seun opreg trots kan wees en wat die
beste in hom na vore laat kom.
Gesonde ontspanning op 'n plaas geleë op die walle van die Visrivier, weg van
verkeerde invloede wat u seun se opvoeding kan benadeel.
|
Marlow gaan van krag
tot krag. |
Die Hoër Landbouskool Marlow was in 2006 vyf-en-sewentig jaar oud.
In hierdie afgelope vyf-en-sewentig jaar het Marlow 'n baie spesifieke karakter
ontwikkel - 'n karakter wat in geen ander skool in Suid-Afrika gevind word nie.
Die seuns wat hier op skool is, het iets wat geen ander seuns het nie. Hulle is
werklik bevoorreg - hulle is in 'n goeie skool, maar ook 'n lekker skool. Hoekom
mag seuns nie hulself gate uit geniet, terwyl hulle op baie terreine ontwikkel
nie?
Hoekom presteer die Marlowleerders op so baie terreine? Daar is baie redes, maar
die een wat uitstaan, is die feit dat alle seuns wat op Marlow skoolgaan 'n
keuse uitgeoefen het om Marlow toe te gaan. Dit is nie net die naaste skool aan
hulle huis nie - dit is die skool waar hulle wil wees en dit haal die beste uit
hulle. Hier ontwikkel hulle tot volwassenheid.
|
Wat maak Marlow 'n
goeie skool? |
Akademies:
Die seuns kan op Marlow die meeste vakke neem wat hulle by enige ander skool kan
neem, maar hulle kan hier vakke neem wat hulle by geen ander dorpskool kan neem
nie. Die seuns word toegelaat om 'n suiwer akademiese kursus te volg, soos die
"big four" - Wiskunde, Fisiese Wetenskappe, Lewenswetenskappe en Rekeningkunde.
Hulle kan ook 'n wetenkaplike-, handels- of 'n landboustudierigting volg.
In die landboustudierigting kan hulle twee vakke neem nl. Landboutegnologie en
Landboubestuurspraktyke. Hier benewens kry hulle ná skool praktiese
landbou-opleiding by vyf gespesialiseerde landbou-afdelings wat hulle by geen
ander skool kan kry nie.
Hoe vaar die Marlowseuns akademies? Baie onwaarhede word deur jaloerse persone
verkondig. Vergewis u self van die feite. Marlowleerders skryf presies dieselfde
vraestelle in graad twaalf as al die ander skole. Die Departement van Onderwys
maak elke jaar die skole se gemiddeldes, behaal per vak bekend. U kan met
vrymoedigheid na hierdie syfers kom kyk en vir u self besluit of Marlowleerders
enigsins swakker vaar as ander skole se leerders.
Wat meer is, dit is nie net die begaafde leerders wat ontwikkel nie - ook die
minder begaafdes se selfvertroue word so ontwikkel dat hulle akademiese
prestasies ook verbeter.
Sport:
Die seuns ontvang gespesialiseerde afrigting in die volgende sporte:
Somer: Krieket, tennis, atletiek, swem en tweekamp.
Winter: Rugby
Die volgende sporte word ook deur die skool aangebied op individuele vlak:
ruiterkuns, fietsry, kanovaart, gholf, muurbal. Tans begin ons weer met
afrigting in luggeweerskyfskiet nadat die owerhede .22 skyfskiet verbied het.
Die Marlowleerders presteer baie goed in alle sporte, maar presteer veral in
rugby, tennis, krieket, atletiek, skyfskiet en tweekamp. Individuele leerders
blink egter uit in al die ander sportsoorte en jaarliks behaal leerders
nasionale kleure in verskillende sportsoorte.
Op Marlow is rugby 'n leefwyse, nie maar net nog 'n sport nie. Ons glo nie dat
daar enige ander skool in Suid-Afrika is waar daar so 'n groot persentasie
leerders rugby speel nie. Om Saterdag vir Saterdag veertien rugbyspanne in die
veld te stoot, is besonders.
Nog meer besonders - die entoesiasme waarmee rugby aangepak word deur die
personeel en leerders. Op Marlow speel seuns rugby wat by baie ander skole nooit
eers aan sport sou deelgeneem het nie. Hulle doen dit vir hulle skool en hulle
span en ons sien week na week hoe hierdie seuns se rugby verbeter. Die
entoesiasme wat ook uitgaan vanaf die afrigters, skool- en koshuispersoneel,
maak ons rugby meer besonders.
Marlow se eerste rugbyspanhet verlede jaar werklik uitstekend gevaar. Van die
negentien wedstryde wat hulle gespeel het, het hulle net twee verloor. In die
Oos-Kaap eindig hulle onoorwonne. SuperSport se Superschools wat die ranglys van
rugbyspelende skole in Suid-Afrika beheer, het Marlow geklassifiseer as ‘n
kategorie A skool. Dit beteken dat Marlow nou, volgens hulle, in dieselfde
geselskap beweeg as skole soos Grey Kollege, Paul Roos, Waterkloof, Monument,
Affies, Paarl Gimnasium en baie ander bekende skole.
Marlow eindig die 2009 seisoen in die sesde plek van alle skole in Suid-Afrika
volgens die klassifikasie van Superschools. ‘n Merkwaardige prestasie as in
gedagte gehou word dat Marlow ‘n relatiewe klein plattelandse skool is, wat
anders as meeste groot rugbyspelende skole, nie sportbeurse aanbied nie. Marlow
is bekend daarvoor dat die skool spelers ontwikkel, en nie koop nie! Op Marlow
is daar geleenthede vir enige seun, maak nie saak hoe goed hy speel nie.
Kultuur:
Op kultuurgebied is daar ook vele kanse vir die seuns om te ontwikkel. Die
volgende word aangebied:
VCSV, Skaak, Debat en Redenaarskompetisies, Junior Boerevereniging, Toneel en
drama en koor.
Jaarliks word prestasies gelewer wat nie van ‘n seunskool verwag word nie.
Vanjaar is die volgende prestasies al behaal:
Algemeen:
Op Marlow word selfbeeld ontwikkel. Die seuns ontwikkel baie vinnig tot jong
mans wat hulle plek kan volstaan in die grootmenswêreld. Dit word toegeskryf aan
die positiewe gees onder die seuns. Hulle behoort aan ‘n skool waarop hulle
trots is en daarvolgens ontwikkel hulle. Vra gerus die ouers en hulle sal u
vertel hoe vinnig hul seuns ten goede verander het.
Marlow het net plek vir 260 leerders in die skool. Om teleurstelling te voorkom,
moet u nou aansoek doen vir toelating in 2010.
Aangesien die leerder 'n keuse het tussen 'n suiwer akademiese
kursus of 'n landbougerigte kursus, is daar geen beperkings ten opsigte van
beroepsmoontlikhede nie.
Die landbougerigte kursus berei nie net die leerders by uitnemendheid voor vir
die beroep as boer nie, maar verskaf die agtergrond vir enige landbouverwante
beroep.
Oudleerders word dan ook nie net as boere, landboukundiges, navorsers of in
boerderyverwante beroepe aangetref nie, maar ook as ingenieurs, regslui,
veeartse, medici, predikante, onderwysers, rekenaarbedieners, sakemanne,
staatsamptenare, polisie-amptenare en 'n groot verskeidenheid ander beroepe.
|
 |