 |
|
Marlow - Rugby is 'n
leefwyse !! |
Op Marlow is rugby 'n leefwyse, nie maar net nog 'n sport nie.
Ons glo nie dat daar enige ander skool in Suid-Afrika is waar daar so 'n groot
persentasie leerders rugby speel nie. Om Saterdag vir Saterdag veertien
rugbyspanne te laat speel, is besonders vir 'n skool met 260 seuns.
Nog meer besonders - die entoesiasme waarmee rugby aangepak word deur die
personeel en leerders. Op Marlow speel seuns rugby wat by baie ander skole nooit
eers aan sport sou deelgeneem het nie. Hulle doen dit vir hulle skool en hulle
span en ons sien week na week hoe hierdie seuns se rugby verbeter. Die
entoesiasme wat ook uitgaan van die afrigters, skool- en koshuispersoneel, maak
ons rugby baie spesiaal. Hoeveel kilometers, afgelê word, hoeveel man-ure
spandeer word aan rugby, hoeveel padkos is al voorberei en verorber in hierdie
seisoen. Ook die personeel wat nie direk met afrigting te doen het nie, maar
help met voorbereiding en verkoop van lekkernye langs die veld maak rugby op
Marlow 'n spanpoging wat moeilik geklop sal word.
Voeg daarby die entoesiasme van ons ouerkorps en jy het 'n wenresep. Om Saterdag
na Saterdag dieselfde ouers langs die rugbyveld te sien op dorpe oor die hele
Oos-Kaap is besonders. Ouers ry uit die Vrystaat, Noord-Kaap en Wes-Kaap om
hulle seuns te kom ondersteun. Min skole kan so staatmaak op ouerondersteuning
soos Marlow.
Hier in Maartmaand, as jy so in die omgewing van half tien in die aand hoor hoe
al die leerlinge tussen die twee koshuise bymekaar kom en hul rugbyliedjies
sing, dan weet jy dit is weer sulke tyd - rugbytyd!
|
Mnr. D. Olivier (Sportorganiseerder) |
MARLOW RUGBY GAAN VAN KRAG TOT KRAG
Rugby is al lankal nie net meer ’n sport nie. Dit is vir baie
spelers ’n beroep waar groot salarisse verdien word. Marlow besef dit en daarom
sal daar voortdurend na rugby ontwikkeling gekyk word om seuns voor te berei op
die eise van professionele rugby.
Die besluit, jare gelede, om meer teen die sterk skole in Suid-Afrika te speel
werp vrugte af. Toe Marlow teen skole soos Framesby en Daniël Pienaar begin
speel het, het Marlow slegs enkele wedstryde gewen. Tans kompeteer ons teen
sterker skole en baie gereeld is dit hierdie skole wat op hulle neus kyk en met
enkele oorwinnings huis toe gaan.
Aangesien Marlow elke Saterdag 14 spanne in die veld kan stoot met sy 260
ingeskrewe leerders was dit nodig om weg te doen teen wedstryde teen die
plattelandse skole. Die meeste van hierdie skole kan ses van ons spanne
akkommodeer wat net nie meer voldoende is nie. Tans speel Marlow dus teen
Brandwag, Framesby en Daniel Pienaar in die O P, teen Diamantveld, Noord-Kaap en
Landboudal in die Griekwas, teen Queens en Hudson Park in die Grens, teen
Oakdale in SWD, Boland Landbou in die WP. Dan word daar op rugbydae en toernooie
teen spanne soos Grey Kollege van Bloemfontein, Grey in Port Elizabeth, Selborne
van Oos-Londen en baie ander rugbyskole in Suid-Afrika gespeel.
Hierdie besluit om teen die groter skole te speel werp vrugte af aangesien die
spelers gewoond word aan die druk, spoed en karakter van groter skole wat
hemelsbreed verskil van die plattelandse liga. Dit bevoordeel dan ook spelers
wat aan proewe deelneem vir provinsiale spanne. Die aantal seuns van Marlow wat
dus deelneem aan provinsiale toernooie het die afgelope vyf jaar dus radikaal
toegeneem. Die afgelope ses jaar lyk die statistieke soos volg:
|
Jaar |
Aantal
provinsiale spelers |
|
2006 |
12 |
|
2007 |
9 |
|
2008 |
10 |
|
2009 |
16 |
|
2010 |
4 |
|
2011 |
12 |
Vanjaar het Marlow ses 0/18 Cravenweekspelers nl. Corrie van Zyl,
Henfred Linde, Ricky van Straaten, Lood de Jager, Zubin Baartman en Dean
Ferreira. Ricky is ook aangewys as die kaptein van hierdie span. Vier seuns tw,
Inus Pretorius, Corrie van der Walt, Louis Snyman en Bennie Kitching is gekies
vir die O P Platteland Akademiespan. Ronnie Beyl en Peet Schoeman is vir die O P
Grant Komo 0/16-span gekies.
Om net teen groter skole te speel, kan ook nie alleen help nie. Toewyde en
lojale afrigters dra by tot die sukses van Marlow rugby. Tien onderwysers en vyf
buite afrigters van Cradock rig die veertien spanne af. Die passie en lojaliteit
vir Marlow, vir die spelers en vir mekaar as afrigters maak ’n groot verskil.
Daar word voordurend gekyk na die nuutste en beste afrigmetodes en na elke
rugbydag word die wedstryde ontleed en gekyk waar verbeter kan word. In 2010 het
ses afrigters die uitstekende afrigtingskursus van Jake White bygewoon en die
kennis hier opgedoen is oorgedra aan alle afrigters.
Rugby gaan egter lankal nie net oor afrigting nie. Daar is dus vanaf 2011 ’n
formele ooreenkoms aan gegaan met Nerine Loock wat ook as biokinetikus van die
Southern Kings optree. Sy het die seuns individueel getoets en oefenprogramme
uitgewerk om die seuns sterker, vinniger en taaier te maak. Sy word in hierdie
proses bygestaan deur dr. Stefan Schoeman wat saam met Nerine verantwoordelik is
vir die fisiese voorbereiding van die spelers, maar ook vir die rehabilitasie
van beseerde spelers. Hulle bedryf saam ’n hoë prestasie eenheid vir alle sporte.
Marlow is dus bevoorreg om ’n mediese dokter te hê wat by oefeninge en wedstryde
die seuns bystaat met mediese kennis. Dr. Schoeman het dan ook ’n spreekkamer op
Marlow.
Tans is Marlow ook besig om ’n nuwe gimnasium te bou wat sal voldoen aan al die
vereistes van moderne afrigting en kondisionering van spelers vir die groter
eise van die spel. Die korrekte gewigte en oefenapparate sal deur Nerine Loock
en dr. Stefan Schoeman uitgesoek word sodat die seuns maksimaal kan baat by
hierdie nuwe gimnasium.
As ons kyk na prestasies van die Marlow seuns in ander sportsoorte kyk, is dit
duidelik dat alle sportsoorte baat vind by die passievolle afrigting deur alle
afrigters in alle sportsoorte op Marlow.
|
 |