Home




Mnr. R. van Dyk

Marlow het in die Aprilvakansie die negentiende O/13 Rugbyweek aangebied. Twee en dertig skole vanoor die Wes-Kaap, Oos-Kaap, Noord-Kaap, Suid-Kaap, Vrystaat en Boland het die week bygewoon en is baie tevrede terug huis toe. Hierdie week het deur die jare gegroei tot die grootste van sy soort in Suid-Afrika. Nie net bly dit die grootste fondsinsamelingspoging van die skool nie, maar het die week die afgelope drie jaar ontwikkel in ‘n goeie bemarkingspoging vir die skool.

Die O/13 Rugbyweek het die afgelope twee jaar goeie blootstelling op SuperSport gehad en die skool se naam is baie wyd uitgedra oor die hele land. Santam Landbou het hierdie jaar opgetree as mediaborg en het ‘n groot finansiële inspuiting in die week gemaak.

Die O/13 Rugbyweek is ‘n spanpoging deur die ‘n groot aantal personeellede en ouers van Marlow. Sonder hulle baie harde werk, geduld, opofferinge en die liefde waarmee hulle hierdie taak vir Marlow aanbied, sal die week nie meer kan bestaan nie.

Mnr. Van Dyk doen baie moeite met hierdie baba van hom wat vir die skool so baie beteken en ek bedank hom in hierdie aand vir sy aandeel in die sukses van hierdie week.
 

Rugby afrigtingskliniek vir laerskole: Mnr. R. Van Dyk

Die Marlow Rugbykliniek is ‘n nuwe bemarkingspoging wat vanaf hierdie jaar aangebied is. Veertig laerskool seuns het op Marlow saam getrek om hulle individuele rugbyvaardighede te verbeter voor die rugbyseisoen vir 2010 begin het. Cheetah for Kidz onder beskerming van oudskolier en Sewes springbok, Chris Kruger, was in beheer van afrigting gewees. Die kliniek het die potensiaal om baie te groei en vul verseker ‘n leemte onder laerskool rugbyspelers wat veral van die platteland af kom. Dit is ‘n poging wat vir die skool en vir die seuns wat dit bywoon op die langtermyn tot voordeel strek.