Home




MARLOW VIER STIGTINGSDAG

Dinsdag, 10 Mei 2011 het die Hoër Landbouskool Marlow sy tagtigste verjaarsdag gevier tydens sy jaarliks stigtingsdag.

Die program is afgehandel by die gedenkmuur wat in 2006 gebou en ingewy is. Die hoofseun en onderhoofseun het die skoolvlag en landsvlag geplant en die Volkslied is saam gesing.

Ds. Attie van Wyk het geopen met Skriflesing uit Psalm 33 en ’n gepaste gebed gedoen.

Mnr. Hennie Olivier was hierna aan die woord en het die doel van stigtingsdag aan die leerders, personeel en publiek voorgehou. Hy het die volgende gesê:

Marow was in 2006 vyf-en-sewentig jaar oud. Ons het hierdie verjaarsdag gevier en ons het baie moeite gedoen om die geskiedenis van die skool op skrif te plaas. Vanjaar is ons 80 jaar oud en ook dit moet gevier word. Dit is egter belangrik dat ons elke jaar aan ons geskiedenis moet aandag gee. Elke jaar kom hier nuwe leerders en nuwe personeel en dit bly belangrik dat ons almal op Marlow die geskiedenis moet ken.

Jy kan maklik vra hoekom dit belangrik is. Kom ek noem ‘n paar redes:

Marlow is ‘n skool soos enige ander skool, maar dit is ‘n skool soos geen ander skool. Daar is geen skool in S A wat dieselfde karakter en tradisies as Marlow het nie.

Hierdie karakter en tradisies het nie uit die hemel geval nie. Oud-onderwysers en oudskoliere het deur die jare gesorg dat Marlow se karakter en tradisies gevestig geraak het.

Op stigtingsdag herrinner ons mekaar aan die uniekheid van Marlow. Ons vestig weer ons aandag op leerders wat groet, wat dames soos dames behandel, wat beleefd is teenoor volwassenes, wat trots is op hulle skool en skooldrag, wat hulpvaardig is, wat trots Afrikaans is, wat boerseuns is in murg en been.

Ons herrinner mekaar aan die kaias wat Marlow uniek maak. Hierdie tradisie is spontaan begin deur die oudskoliere en dit is die huidige leerders se plig om hierdie tradisie uit te bou. Ons herrinner mekaar aan die groepgees en samehorigheid wat jy nêrens anders kry nie.

Op stigtingsdag dink ons terug aan oud-onderwysers wat rolmodelle was vir so baie leerders deurdie jare. Ek wat baie kontak het met die oudskoliere weet watter rol ‘n mnr Chris Spies,’n mnr Frans Louw en dr Gene Mostert gespeel het. Saam met hulle was daar baie ander wat die skool help bou het deur jare. So is daar onderwysers wat tans hier sit wat in die toekoms in dieselfde asem as ‘n Chris Spies of ‘n Frans Louw genoem sal word. Mense wat lief is vir kinders, maar veral lief is vir Marlow en Marlow se kinders.

Ons dink aan ons oudskoliere wat saamgewerk het om die skool se karakter te vestig. As twee oud-Wolramme mekaar êrens in die wêreld raakloop is daar dadelik ‘n band wat hulle saambind al was hulle nooit saam op Marlow op skool nie. Dit is iets wat buitestaanders jaloers maak en wat hulle net nie kan verstaan nie. Eenmaal ‘n Wolram, altyd ‘n Wolram.

Ons dink terug aan prestasies van ons oudskoliere. Ons dink byvoorbeeld aan ‘n Gerdie Landman en Louis de Kock,wat beide nasionale boere van die jaar was, ons dink aan n Hendrik van Zyl wat voorsitter van Cape Wools was, die hoogste pos in Suid-Afrika in die wolbedryf, Ons dink aan ‘n Marius Corbett, wêreld spiesgooikampioen, aan Springbokrugbyspelers soos Willie Meyer en Philip Smit en baie ander presteerders op baie ander gebiede. Hulle is ons rolmodelle, want as hulle dit kan vermag, dan kan julle dit ook doen.

Ons dink met hartseer terug aan seuns en oudskoliere wat hier op skool was en wat reeds gesterf het. Elkeen van hulle het ‘n spesiale plekkie in ons hart.

Ons dink veral aan die toekoms van hierdie skool. Ons wat vandag hier sit het ‘n verantwoordelikheid teenoor die oud-onderwysers en oudskoliere. Ons moet sorg dat Marlow sy karakter bly behou. Ons moet streef na uitnemendheid. Ons is nou die bouers van hierdie skool. Dit plaas ‘n verantwoordelikheid op my. As ek nie kans sien daarvoor nie, is Marlow nie die skool vir my nie. Laat ons hande vat en sorg dat die volgende jaar ook een van die gloriejare van Marlow sal wees.

Hierna met mnr. Wyno Ferreira die geskiedenis en ontwikkeling van Marlow oor 80 jaar aan die gehoor voorgehou. Hy het die volgende uitgelig:

Die gedagte om ‘n Landbou-industriële skool naby Cradock te stig, het by wyle I B van Heerden ontstaan wat geboer het te Kaalplaats Cradock. Tydens ‘n skoolraadsvergadering op 16 Junie 1911 het mnr Van Heerden voorstel dat die Unie-regering genader word om ‘n gedeelte van die plaas, Driefontein, beskikbaar te stel vir die oprigting van ‘n landbou- industriële skool.

Die regering het toestemming verleen en die hoeksteen is op 4 Maart 1918 gelê. ‘n Stuk grond van die plaas, Rietfontein, wat aan die Unie-regering behoort het, word geregistreer by die aktekantoor vir die oprigting van die skool.

Die Departement van Unie-Onderwys het in 1929 finaal besluit om voort te gaan met die stigting van Marlow Landbouvakskool en begin met die oprigting van skool- en koshuisgeboue. Dit was teen die einde van 1930 voltooi. Die koshuis het voorsiening gemaak vir 40 leerlinge

Drie personeellede word in 1930 aangestel nl mnr D B van Zyl as eerste skoolhoof en twee instruktukteurs, mnr G J Marais en mnr S J Brandt.

Die skool open op 21 Januarie 1931 met nege leerlinge en die drie personeellede. Die amptelike opening vind later die jaar plaas deur dr D F Malan, die Minister van Onderwys wat dan ook later eerste minister word van die Unie.

Die enigste woonhuis was op Driefontein, vyf kilometers van die skool, waar die huidige spilpunte tans is. Al drie onderwysers het in die huis gebly. In 1932 word die skool en koshuis van elektrisiese krag voorsien.

Twee instrukteurs en 19 leerlinge van ‘n ambagskool op King Williamstown begin bou in 1930 die skoolhoof se huis, koei- en perdestalle asook ‘n groot kuilvoersilo. Verdere plaasgeboue word gebou en die skeerhuis word in 1939 voltooi.

Deur die depressiejare groei die skool stadig en in 1934 word die koshuis vergroot sodat dit 60 leerlinge kan huisves. Die skoolhoof se woning (mnr Charl Naude se huidige huis) word in 1937 voltooi.

In 1946 word die koshuis weer vergroot sodat dit 85 leerlinge kan huisves. In 1952 is hier 122 leerlinge in die skool. In dieselfde jaar, in die nag van 7 November 1952, brand die koshuis af. Die volgende oggend kon die honger verwese leerlinge darem mieliepap eet wat in die lou-oonde in die Agastoof behoue gebly het.

Vir meer as twee jaar sukkel dis skool voort sonder behoorlike huisvesting terwyl Huis Willie Michau gebou word. HWM was dadelik vol en daar is dadelik begin met die bou aan Huis Sarel Brandt wat 60 leerlinge kon huisves. Terwyl daar gebou word, samel ouers geld in vir die bou van die P J du Plessis saal. Die ouers betaal die helfte van die geld en die onderwysdepartement die ander helfte. Woonhuise vir die personeel word ook gebou en in 1956 was hier agt woonhuise.

In 1957 word die J L de Bruin swembad in gebruik geneem, die D B van Zyl biblioteek, ‘n projektorkamer asook ‘n nuwe klaskamer word in 1964 voltooi.

Op 4 Maart 1974 oorstroom die Visrivier sy walle en spoel krag- en telefoonlyne weg. Die pluimveeafdeling word heeltemal vernietig, terwyl die werkswinkels ook erg deurloop. Die water is ook heuphoogte deur die skoolgeboue en ook HWM word oorstroom. Die skade beloop R250 000.

Daar is ná hierdie vloed vir lank onderhandel om nuwe landbou-geboue te bou. Dit word in 1988 verwesenlik met die inwyding van die nuwe plaasgeboue wat R1 919 339 gekos het.

Die skool groei steeds en dit word nodig om nog akkommodasie te skep. Die Braam Mulder anneks word dus uit eie fondse gebou in 1997 wat 38 leerlinge kan akkommodeer. Die huidige koshuise word ook verander sodat Marlow se getalle groei tot 266 in 2007.

Die oudskoliere speel ‘n leidende rol om die Andre van Heerden muurbalkompleks, die Gideon Jordaan pawiljoen en die Christie Fick gimnasium op te rig in die tagtiger jare. Tans is ons besig om ‘n nuwe gimnasium te bou om meer geleenthede vir ons leerders te skep.

Marlow se landbou-bedrywighede groei ook konstant deur die jare. In die dertigerjare was die melkery in die vleie anderkant die Middelburgpad. Met die voltooiing van die melkery in 1939, is daar met die hand gemelk tot 1988 met die bou van die nuwe suiwelafdeling. Die ontwikkeling van 3 X 30 ha spilpunte het ons besproeiing verdubbeld en lewer ‘n stewig bydrae tot die boerdery se sukses.

Skoolhoofde die afgelope 80 jaar:

Mnr D B van Zyl (1931 - Maart 1947): Mnr van Zyl is as instrukteur van die landbouvakskool Oakdale oorgeplaas na Marlow as skoolhoof.

Mnr S J Brandt (1947 - Augustus 1964): Mnr Brandt word deur baie van die oudskoliere as argitek van Marlow beskou. Mnr Brandt sterf tragies na ‘n motorongeluk naby die huidige implementeskuur. Ook sy seun, Sarel, was saam met hom in die motor en sterf in hierdie ongeluk.

Mnr H T van G Bekker: (1964 - 1980): Mnr Bekker( M Sc) was bekend as ‘n baie goeie Skaap-en-Wol onderwyser. Sy tydperk word veral gekenmerk deur goeie administrasie en finansiële dissipline.

Dr E Mostert (1981 - Junie 1985): Dr Mostert het in ‘n kort tydjie diep spore getrap op Marlow. Die skoolgetalle styg sterk van 120 tot 168 in hierdie vier jaar.

Mnr P J Vermaak (Oktober 1985 - 1993): Mnr Vermaak gaan voort met die werk van dr Mostert.

Mnr F H Olivier (1994 tot op hede):

Die eerste nege-en-sewentig jaar van Marlow was suksesvol. Hoe ons en ons opvolgers gaan omsien na Marlow, sal die sukses van die volgende nege-en-sewentig jaar bepaal. Mag Marlow van krag tot krag gaan.

Hierna het me Carin Greyling ’n baie gepaste voorlesing gedoen. Mnr. Hendrik van Zyl, oudskolier wat in 1964 gematrikuleer het, het hierna ’n baie gepaste boodskap aan die seuns gebring. Hierdie boodskap van hoop sal lank onthou word.

Ricky van Straaten, hoofseun in 2011 het hierna die tipiese karaktereienskappe van ’n Wolram aan die publiek voorgehou. Hy het onder andere vir die seuns gesê:

Toe jy besluit het om Marlow toe te kom, het jy besluit om die waardes en boustene te aanvaar wat ‘n Wolram uniek maak. Boustene en waardes wat ‘n band vorm tussen die leerders van hierdie skool, tussen die oudskoliere van hierdie skool, en tussen die leerders en oudskoliere van Marlow. ‘n Unieke band, wat mense van buite nie verstaan nie, omdat hulle dit nie beleef nie.

Om werklik ‘n Wolram te wees beteken dat jy oor sekere eienskappe moet beskik en sekere verantwoordelikhede het, wat altyd nagekom moet word.

Waarvoor staan WOLRAM?

Die W staan vir wenners. ‘n Wolram is altyd ‘n wenner. ‘n Wolram probeer altyd om dit wat hy doen na die beste van sy vermoëns te doen. Om net jou beste te gee, beteken klaar jy is ‘n kampioen. ‘n Wolram is ‘n arend wat uitstyg bokant ander en die res op die grond los.

Die O beteken om ordentlik te wees. Ordentlik teenoor jou self, jou maats, jou meerderes en baie belangrik jou minderers. ‘n Wolram moet deur sy optrede altyd ordentlik wees, en ‘n goeie advertensie vir sy skool en sy ouerhuis.

Die L staan vir leer. ‘n Wolram besef dat hy nie volmaak is nie, en dat hy nooit kan ophou leer nie. Elke dag hou sy eie lewenslesse in, en ‘n Wolram besef dat ‘n mens deur die goeie optrede van ander en deur die goeie voorbeeld wat ander stel altyd leer. ‘n Wolram besef dat lewenskennis belangrik is en dat dit net verkry kan word deur altyd ‘n ware student te wees. ‘n Wolram besef dat ‘n mens ook uit sy foute moet leer, en dat as ‘n mens opreg en eerlik is hy nooit dieselfde foute weer en weer maak nie.

Die R staan vir reëls. ‘n Wolram besef dat reëls belangrik is om orde en persoonlike vryheid te verseker. Wolramme weet dat reëls daar is om hulle te help op hulle pad na volwassenheid en dat daardie reëls altyd eerbiedig moet word.

A staan vir ambassadeur. Wolramme se optrede moet van so ‘n aard wees dat hulle altyd ware ambassadeurs vir hulle gesinne en vir hulle skool is. ‘n Wolram wat se optrede nie tot eer van die skool strek nie, verdien nie om ‘n Wolram genoem te word nie.

Die M staan vir motivering. ‘n Wolram is altyd gemotiveerd in wat hy doen. Hy gee altyd sy beste en probeer om in alles wat hy doen 110 % te gee.

Om werklik ‘n Wolram te wees word nie vir jou op ‘n skinkbord gegee nie. Dit kos harde werk en verantwoordelikheid. Maar op die ou einde is dit alles die moeite werd. Kyk maar na die honderde oudskoliere wat altyd terug kom na hulle alma mater. Altyd belangstel in die doen en late van hierdie skool, en altyd met heimwee verwys na die jare wat hulle op Marlow kon deurbring.

Die simboliek van die gedenkmuur is hierna deur mnr. Callie Calitz voorgehou. Die volgende is hier van belang:

Die mure is in die vorm van twee ramhorings gebou. Die twee horings loop na mekaar toe. Dit dui die skerp band tussen ouers, oudskoliere en leerlinge aan. Dit wys ook dat ons paaie na skool uit mekaar gaan, maar as Wolramme een of ander tyd weer bymekaar uitkom. Die gekromde horings dui ook op die omarming van die eie, ons jeug, en dat ons werklik vir mekaar omgee.

FONTEIN

In die middel van die twee horings is daar ‘n fontein. Die water dui op lewe, maar ook op landbou. Die ruggraat van Marlow.

BEELDE

Tussen die twee mure is daar twee beelde van seuns. Die een seun hou ‘n rugbybal vas wat ons sport uitbeeld. Dit dui ook op die tipe seun wat deur die jare sy skoolloopbaan op Marlow voltooi het. Die ander beeld dui ‘n seun aan wat ‘n boek vashou. Dit dui op kennis, maar ook op die kultuur en tradisies van die skool. Die boek dui ook ons Christelike grondslag aan. Die bene van die twee seuns vorm ‘n M. Die eerste letter vir Marlow.

RAM

By die twee beelde is daar ook ‘n beeld van ‘n Wolram. Ons belangrikste vertakking op Marlow, en die een simbool waarop ons nie net geweldig trots is nie, maar wat ons, ons eie gemaak het.

PLAVEISEL

Op die plaveisel is daar bruin strepe aangebring wat soos sonstrale van binne na buite loop. Dit dui weereens op die landbou, asook op die feit dat daar altyd ‘n sterk band tussen Wolramme sal wees.

STERFTES

Op die een muur is die name van onderwysers en seuns aangebring wat gesterf het voordat hulle, hulle skoolloopbaan op Marlow kon voltooi. Dit wys dat ons omgee, en nooit sal vergeet nie.

SKOOLLIED

Aan weerskante van die beelde is daar twee koperplaatjies waarop die Marlow skoollied aangebring is. Hier kan almal sien en lees hoe trots en passievol ons vir ons skool is.

GEDENKPLAAT

Hierdie gedenkplaat wat deur Mnr Hennie Olivier onthul is, herinner ons daaraan dat hierdie gedenkmuur opgerig is om die 75ste bestaansjaar van ons trotse skool te vier.

PAALTJIES EN KETTINGS

Rondom hierdie gedenkmuur is daar die paaltjies en die ketting wat hierdie monument beskerm.

Dit laat ons dink aan die arms van die Here wat om ons vou en alle leerlinge, onderwysers, oudskoliere en ouers hier op Marlow beskerm en onderhou!

EENKEER ‘N WOLRAM - ALTYD ‘N WOLRAM

Lood de Jager, een van Marlow se twee onder-hoofseuns het hierna die name van onderwysers en leerders voorgelees wat gesterf het terwyl hulle aan Marlow verbonde was.

In ’n plegtige seremonie het mnr. Olivier, mnr. Hendrik van Zyl en Ricky van Straaten kranse gelê namens die skool, oudskoliere en leerders onderskeidelik.

Na ’n minuut stilte en die speel van die Last Taptoe is afgesluit met die Marlow skoollied waarna die seuns die tradisionele kreet geskree het.

Santam Landbou, Marlow se hoofborg het die seuns en personeel verras met koek, koeldrank en geskenke. Elke seun het onder andere ’n Santam serp ontvang