Home
Fasaliteite
Koshuise
Beheerliggaam
Borge
Leerders
Skoollied




ONS LEERDERS  (Uit Jaarverslag 2010)

Marlow het kwaliteit leerders. Hulle kan maar lekker stout en onmoontlik wees, maar hulle bly ordentlik. Die feit dat al ons leerders kosgangers is, maak Marlow ook anders. Die seuns leef daagliks tussen ander seuns van hulle eie ouderdom en kultuurgroep en dieselfde reëls geld vir almal. Tog hinder dit my partykeer dat individuele leerders nie altyd die karakter en etos van Marlow voorop stel nie. Ons moet dus waak teen klein jakkalsies in die wingerd as ons Marlow se karakter wil behou. Dit is veral die plig van die senior leerders wat Marlow se tradisies en karakter goed ken. Ek is egter baie trots op ons leerders wat dwarsdeur die land sulke wonderlike komplimente ontvang oor hulle gedrag, hoflikheid en hulpvaardiheid.

Gedurende die wintervakansie is Andru Swart, graad nege leerder, tragies by sy ouerhuis oorlede. Ons harte gaan uit na sy ouers en familie.

Die leerdertal staan tans op 255. Ons het reeds 60 nuwe leerders toegelaat vir 2011 terwyl ons 45 matriekleerders verloor.

 

PREFEKTE : Mnr. R. van Dyk  (Uit Jaarverslag 2010)

Die rol wat die perfekte op Marlow speel in die normale verloop van dag tot dag, kan nie gering geskat word nie. Dit is in ’n groot mate die prefekte wat verantwoordelik is vir die dissipline en groepsgees in die skool. Hulle sorg dat Marlow se karakter behoue bly. Prefekte op Marlow werk hard en is nooit af nie. Daar word van hulle verwag om nie net in die skool én koshuis diens te doen nie, maar om ook te motiveer, te dissiplineer, te ondersteun en te alle tye lojaal te wees aan die skool en medeleerlinge. Dit is totaal en al anders as by die meeste ander skole waar prefek- wees maklik en stresvry is.

Die huidige prefekte het, soos hulle voorgangers, dit reg gekry om van 2010 ’n suksesvolle jaar te maak. Dankie aan die prefekte wat ons taak as onderwysers baie makliker maak. Onder die puik leiding van ons hoofseun, Graham, saam met twee onderhoofseuns, Wicus en Zak, het die leerlinge van Marlow altyd gelukkig gelyk en was probleme vinnig opgelos.

Elke jaar vertel ek van die goeie hoofseuns wat Marlow gehad het en dit is waar. Jy kry egter goeies en uitstekendes. In die ses-en-twintig jaar wat ek aan Marlow verbonde is, is Graham definitief een van die vyf beste hoofseuns met wie ek saamgewerk het. Graham het homself heeljaar opgeoffer vir Marlow. Baie dankie Graham, jy is ’n ware Wolram.
 

LEERLINGRAAD : Mnr. T. Aucamp  (Uit Jaarverslag 2010)

Die doel van die leerlingraad is om die prefekte by te staan, veral in die koshuise en in die klaskamers. Hierin het hulle goed in hulle doel geslaag.